ONS BEGUNSTIGDES

In 2019, die jaar waarin die stigting tot stand gekom het, het die instansie twee volwasse studente en drie hoërskoolseuns finansieël ondersteun, asook ‘n opvoedkundige en gemeenskapstoekenning geborg.

Christinah Mokalake

Christinah is ‘n winkel-assistent. Die WRS het haar finansieël ondersteun om by die Sorbet Skoonheidsinstituut in te skryf om opgelei te word as ‘n manikuris of naelversorger. Hierdie opleiding sal verseker dat sy later werk kan kry by ‘n Sorbet Skoonheidsalon.

Christinah is oorspronklik van Mahikeng in die Noordwes Provinsie, maar het na die Wes-Kaap verhuis met haar vorige werkgewer. Sy is getroud met Blessing Zammimba en het twee dogters, Boitumelo wat 15 jaar oud is en Emma wat twee is.  Haar nuwe kwalifikasie sal beter werksgeleenthede met voordeliger werksure verseker, sodat sy meer tyd met haar twee jong kinders kan spandeer.

Genevieve Zongolo

Genevieve van Kayamandi studeer vir die afgelope vier jaar regte deur UNISA terwyl sy ook voltyds werk. Aan die einde van 2018 is ‘n diploma in die regte aan haar toegeken. Die WRS sal vir Genevieve finansieël ondersteun wanneer sy vanjaar vir ‘n LLB inskryf.

Buiten die feit dat sy voltyds werk, ondersteun sy ook ander deeltydse studente in haar gemeenskap en leer sy graad 11 en 12 leerders hoe om universiteit-aansoeke suksesvol in te dien. Sy gee uiting aan haar liefde vir taal, en haar idees as ‘n gemeenskapsaktivis, deur poësie te skryf en op te voer.

Keanu Tchebayou

Keanu (17) is ‘n graad-11 leerder by Paul Roos Gimnasium. Die WRS ondersteun Keanu finansieël om buitemuurse kunsklasse by die PJ Olivier Kunssentrum in Stellenbosch by te woon.

Keanu was ‘n leerder by AF Louw Laerskool voordat hy by Paul Roos Gimnasium aanvaar is om sy hoërskoolloopbaan te voltooi. Hy speel graag sokker en vandat hy ‘n klein seuntjie is, geniet hy dit om veral spotprente te teken.

Die stigting borg twee hoërskool-leerders by

The Calling Education Academy

buite Stellenbosch. Hierdie privaat-seunskool bied hoë-kwaliteit onderwys aan seuns van lae-inkomste gemeenskappe. Sien www.calllingeducation.org.za vir meer inligting.

Die stigting maak ‘n bydrae tot Die Winnie Rust Toekenning wat jaarliks deur die

Wellington Museum

aan ‘n inspirerende vrou wat ‘n positiewe verskil in haar gemeenskap maak, toegeken word.

Die stigting borg die

Hugenote Hoërskool

se Kreatiewe Skryfwerk Prys wat by die skool se jaarlikse prysuitdeling in Welllington toegeken word.